Oor Ons

Daar is niks so lekker soos om deur `n kunsmark te stap nie.  Die interessante skeppings waarmee mense voorendag kom, die reuke, atmosfeer, mense.  Dis net jammer dat ‘n kunsmark gewoonlik nie veel langer as ‘n naweek is nie.  Maar wat as daar ‘n permanente kunsmark was, waar mens kon snuffel na hartelus, sonder om opgesaal te wees met stof in die neus, lang rye by die badkamers of die aldurige gestampery in nou gange?

Welkom by die eerste aanlyn trots Afrikaanse kunsmark.  Hier kan jy daardie unieke items kry, hetsy dit vir ‘n verjaarsdag, ‘n persoonlike bederf, of om jou skoonma te oorreed dat jy nou nie eintlik so slegte skoondogter is nie.  Ons kunsmark is egter uniek, deurdat `n minimum van 5% van jou aankopebedrag projekte van Helpende Hand, die nie-winsbejagde arm van die Solidariteit-beweging, ondersteun.  Nie net help jou aankope om ‘n skooltassie aan ‘n graad 1 te skenk, of ‘n bord kos op ‘n honger kleuter se tafel te sit nie, maar jy ondersteun ook direk ‘n entrepreneur wat sy eie begroting aanvul.  Sodoende stimuleer ons die ekonomie, in Afrikaans en vir Afrikaans-sprekendes.

Wil jy jou eie begroting aanvul?

Met die huidige ekonomie wat druk, ontstaan daar heelwat gate in ‘n mens se begroting.  Jy kan egter jou kreatiwiteit gebruik en `n ekstra inkomste genereer bo-en-behalwe jou salaris.  Van appelliefie-konfyt tot Zebra-biltong, artistieke-hekelwerk tot Zulu-kuns, self gepubliseerde boeke tot jou nuutste CD, solank dit ‘n eie-skepping, uniek en kreatief is, is jy welkom om dit te verkoop.  Daar is egter bepalings en voorwaardes wat jy kan lees om te verseker dat jou blink idee voldoen aan ons vereistes.

Indien jy reg is om jou stalletjie te begin, kliek op die skakel.  `n Stalletjie kos R3 000 per jaar, of R280 per maand.  Indien jy of jou gade ‘n lid van Solidariteit is, kan julle aansoek doen om ‘n 50% korting mits ledegeld te volle betaal is.

Ons is hier om te help:

Ons gee om vir ons medemens, en leef dit uit deur die kwytskelding van registrasiefooie vir behoeftige individue en ander nie-winsbejagde organisasies.  Kerke, ouetehuise, opheffingsplatforms en ander soortegelyk organisasies kan aansoek doen om 100% korting op registrasiefooie.  Individue kan ook aansoek doen, en goedkeuring sal onderhewig wees aan ‘n volledige behoeftigheidanalise.

 

Hierdie is 'n demonstrasie webtuiste en is tans nie aktief nie Dismiss